Ure
‘n Realiteitsprogram oor orgaanoorplantings gemaak en uitgesaai deur Via, Multichoice-kanaal 147.
“Dit is verhale soos dié, dade van ruimhartigheid en mededeelsaamheid, om vir mekaar lewe en hoop te gee, wat die ware beeld van ons as ‘n nasie weerspieël, van hoe die opregte bande van samesyn ons verdeelde verlede vervang. Die programme maak my trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees, en die programme maak elke Suid-Afrikaner trots.”
Derek Hanekom: Minister van Toerisme.
Die programreeks is gebaseer op die konsep van die regisseur en vervaardiger Jan Groenewald. TV-programme wat erkenning gee aan die internasionale status van Suid-Afrikaanse mediese wetenskap en die lewenswaardes van Suid-Afrikaners en medici.
Daar is geen ervaring wat vergelyk kan word met die gevoel van bruisende energie en lewenskrag wat ‘n hartpasiënt met ‘n nuwe hart ervaar nie. Maar die ervaring is nie vir almal beskore nie.
Ure vertel die ware verhale van jong hartlyers wie se enigste hoop op oorlewing ‘n hartoorplanting is en die mediese spanne wat gereed staan; verhale van die dag-tot-dag-stryd om terminale hartsiekte te oorleef.
As ‘n dokumentêre reeks met ‘n aktualiteitsaanslag het Ure unieke trefkrag. Só was die gebeure rondom Phalo se hartoorplanting 3 keer die hoofberig op Die Burger se voorblad. Sosiale media en publikasies – veral dagkoerante maar ook tydskrifte – dryf openbare belangstelling verder op ‘n spits.